@oumabetsgebak
Ouma Bets Gebak ™Hierdie is iets wat al lank op my hart lê, en vandag voel ek ek moet dit deel. Dit maak my ongelooflik hartseer om te sien hoe mense, en selfs ander klein besighede, mekaar afbreek, met mekaar vergelyk en amper wag vir iemand anders se ondergang. By Ouma Bets glo ons nie daaraan nie. Hier inspireer ons mekaar. Hier bou ons. Hier moedig ons aan. Wat ons nie duld nie, is afkrakery, boeliegedrag en onnodighede. Ons breek nie ander besighede af om onsself beter te laat lyk nie, en ons laat ook nie toe dat ons besigheid teen ander opgeweeg word nie. Ek kyk nie na groter en meer gevestigde besighede as kompetisie nie. Ek kyk na hulle as inspirasie. As bewys van wat moontlik is wanneer jy aanhou werk, aanhou leer en weier om op te gee. Ek wens opreg dat meer besigheidseienaars mekaar sal aanmoedig, raad sal deel en vir mekaar sal hande klap. Daar is reeds genoeg druk, onsekerheid en alleenheid wanneer jy iets van die grond af probeer bou. Ons hoef dit nie vir mekaar moeiliker te maak nie. Ouma Bets het begin met ’n R800 Takealot-menger. Ek, Shineal, het ARM groot geword. Ek het nie baie gehad nie. Vandag het ons ons eerste winkel oopgemaak, werk ons vanuit ’n warehouse en stuur ons koekies regoor Suid-Afrika. Geen beleggers nie. Geen maklike geld nie. Geen ouer wat dit vir my gebou het nie. Net harde werk, geloof, baie trane, lang ure en ’n besluit om nie op te gee nie. My grootste hoop vir Ouma Bets is nie net om koekies te verkoop nie. Ek wil hê mense moet raaksien wat ons probeer bou. Ek wil vir iemand wys dat jy nie vir altyd vasgevang hoef te bly in jou huidige omstandighede nie. Jy kan 'n besigheid begin met die bietjie wat jy het. Jy kan iets van niks af maak. As ek met ’n R800-menger kon begin, kan jy ook begin met wat jy vandag het. Ek hoop hierdie boodskap maak iets wakker in iemand. Ek hoop dit herinner ’n besigheidseienaar dat hulle nie alleen is nie. En ek hoop ons begin ’n kultuur skep waar ons mekaar se lig nie probeer verdof nie, maar eerder help om dit helderder te laat skyn.
On the profile · Jul 10, 06:43